Pre-Graad R
Hier maak ons voorsiening vir leerders wat 5 word in hul Pre-Graad R jaar.
Ons omgewing is vriendelik en stimulerend en leerders word aangemoedig om volgens hulle eie potensiaal, binne ‘n bepaalde raamwerk, te ontwikkel en te presteer.
Noodsaaklike lewensvaardighede word ontwikkel deur middel van besprekings, geleenthede om te ontdek en te eksperimenteer. Ons verskaf deurlopende stimulasie vir die ontwikkeling van fyn- en groot motoriek, visuele- en ouditiewe persepsie en om fisiese- en ruimtelike oriënteringsbewustheid vas te lê.
Ons hou altyd in gedagte dat kreatiwiteit (die proses) belangriker is as die eindproduk. Ons werk van die bekende na die onbekende.
Die leerders is elke dag betrokke by:
‘n Tema-bespreking
Musiek en beweging
Opvoedkundige speletjies
Taal- en wiskundige konsepontwikkeling
Konstruksie
Legkaarte
‘n Wye reeks kreatiewe aktiwiteite
Verbeeldingspel
Stories
Die rol van spel vir kinders se sosiale interaksie sowel as fisiese ontwikkeling is van kardinale belang. Ons dagprogram maak ruimtelik voorsiening daarvoor.
Deur die leerders aan te moedig om meer vir hulself te doen, ontwikkel hulle ‘n positiewe selfbeeld en is dit ons doel om onafhanklikheid, selfvertroue en selfstandigheid aan te moedig. Ons lê klem op sosiale vaardighede wat etiket, vriendskap, bedagsaamheid, empatie, mededeelsaamheid, hulpvaardigheid en regverdigheid insluit. Hierdie basiese vaardighede maak dit vir ons leerders moontlik om hul Pre-Graad R jaar ten volle te geniet.
Pre-Graad R is die wegspringblokke vir die leerders se skoolloopbaan. Ons laat hulle die genot daarvan ervaar om kennis te verwerf en bied aan hulle ‘n goeie grondslag vir die toekoms.
